Die Tankwa-Karoo is ’n uitgestrekte stuk woestynagtige veld. Die Sederbergreeks lê aan sy weste en die Roggeveldberg aan die ooste en dit strek vanaf Ceres in die suide tot Calvinia in die noorde. Dis ’n droë landstreek en in die somer styg die kwik maklik bo 40 °C; in die winter lê die sneeu dik op die hoogliggende gebiede en soms tot onder in die veld.

Die plase is groot en dit is skaapwêreld. Groentetuin kan jy nie juis maak nie, maar rooibeet groei goed en word graag ingemaak. Jy kan nie “gou” dorp toe ry nie, want die pad is nie maklik nie. Dit is vol klippe en jy kan maklik twee keer ’n papwiel kry.

Die mense is uit die klip gebore. Hulle woon daar, want hulle kom van daar en hulle eet skaapvleis. Skaapvleis vir middagete, skaapvleis vir aandete.

En vir brekfis?

Ook skaap, die koue skaap van gisteraand. Of hulle sit oornag ’n ribbetjie in die Aga-stoof, môre-oggend is dit murgsag by die tuisgebakte brood. Hierdie skaap van die Tankwa-Karoo het ’n geur van sy eie weens die Karoo-bossies waaraan hulle wei. Jy gooi nie die vleis dood met allerhande geurmiddels nie, jy eet hom so vaal van sy mamma af.

Of gooi net ’n paar speserytjies oor, oor dit ons gewoonte is.
Dis van rondtrek met die skaap agter die weiveld aan wat “kliprib” ontstaan het. Die manne het te perd gery, of gestap, daar was nie die luuksheid van ’n viertrekbakkie of vierwielmotorfiets nie. Dít wat jy met jou wou saamvat, moes jy of jou perd dra.

As ’n man doer in die veld is, raak hy darem lus vir ’n stukkie vleis, daarom vat hy soutribbetjie saam. Die soutribbetjie word al by die huis gemaak en kan winddroog onder die peperboom hang; so hou die vleis lank en is dit ook ligter.

Hout kan jy altyd in die veld optel, maar omdat dit ’n omslommernis is om ’n rooster saam te dra, maak jy liewers kliprib. Jy bak die rib tussen twee vuurwarm ysterklippe. Dan sit jy daar onder jou sterrehemel tussen die ruwe kranse. Daar is die slaperige blêr van ’n skaap. Jy karring in die vuur, ’n vonk skiet die donker nag in. Jy haal jou knipmes uit en sny jou stukkie skaaprib af.

Jy sit daar en jy eet behaaglik en blinkbek en jy gooi vir die skaaphond sy deel. Cornie Taljaard het by sy skoonpa leer kliprib maak en hy beoefen nog die gebruik. Nie oor hy nie ’n rooster het nie, maar oor hy die tradisie wil bewaar.
Die soutribbetjie kan jy enige plek berei, kook en braai, maar as jy éénkeer skaaprib geëet het wat tussen twee ysterklippe gebak het, sal jy altyd daarna terugverlang.

Jy kan ook nie vir jou twee ysterklippe gaan gaps en in jou voorstedelike tuin langs jou swembad gaarmaak nie, want jy het die Karoo-lug nodig, die rook wat dwarrel teen jou klere en die son wat sak twee dae vooruit oor die uitsig so ver en wyd is.

Jy het ook vir Cornie nodig om die ysterklip met ervare hand te lig, en vir Huibrecht wat vetderm bo-op die klip braai vir ’n voorgereggie.

Jy het hulle geselskap nodig, daar in die Tankwa-Karoo.

Hierdie Sondagaand om 18h00 op KykNet kan jy saam met Cornie kuier terwyl hy kliprib maak in die voorlaaste program van “Boerekos met Dine van Zyl”.

Huibrecht is ook daar en sy maak boermeelpap en braai vetderm en ons bak skuinskoek. Dis alles goed waarsonder jy nie in jou opvoeding kan wees nie.

Pierre Bester maak ‘n “lewerstappie” wat wraggies so lekker is, jy kan Tankwa toe ry daarvoor. En dan is daar vetkoek, in vet gebak soos dit hoort, en wildspot.

O ja, en ek maak tamatiesmoor en posjeer eiers daarin. Baie lekker. Dié hele brekfis word met kaiings bedien. (Koop maar daai cholesterolpilletjie).

Kliprib
250 ml (1 k – dis reg, ja) sout
15 ml (1 E) grofgemaalde swartpeper
60 ml (¼ k) grofgemaalde koljander
1 lamsribbetjie

Meng die sout, swartpeper en koljander in ’n koppie. Vryf dit in die lamsribbetjie en laat lê dit oornag. Draai so twee keer om.
Gaan soek vir jou twee groot ysterklippe wat redelik plat is aan die een kant. Maak ’n ordentlike vuur en maak die ysterklippe op hulle sye staan weerskante van die vuur, oorgekantel na binne, sodat hulle mekaar balanseer oor die vuur.
Maak intussen nog ’n vuur en kook water in jou platboompot. Sit die soutribbetjie daarin en kook tot dit begin sag word. Lig uit en gooi die water weg.
Dit vat omtrent 2 uur vir jou ysterklip om goed warm te word. As hy reg is, skop die klip om, dat hy met die plat kant na bo lê. Vee af met ’n lap (oppas vir brand).
Sit ’n stuk vet daarop om die klip te smeer en sit die lamsrib bo-op. Tel die ander ysterklip (met handskoene!) op en sit dit bo-op die ribbetjie.
Gooi vetdermpies bo-op die warm klip, waar dit soos slangetjies krul as dit warm word. Bak dit bros en eet van die warm klip af.
Intussen bak die rib tussen die vuurwarm klippe; die vet loop soos lawa af in die stof. Twintig minute later lig jy die boonste klip en daar lê jou kliprib, die vet bruin en bros gebak.
Dis sulke tye wat jy verstaan hoekom dié mense nie groente eet nie.
Wenk: Jy moet eintlik meer as twee klippe warm maak, want as die een kraak, is jou oond koud, by wyse van spreuke, dan moet jy ’n ekstra een hê. Dis net soos gaan toer in die Tankwa, jy moet altyd ’n ekstra band saamry.
Nou dan groet ek maar
Geniet die naweek en as julle nie ysterklip kan kry nie, braai daai ribbetjie oor die kole. Hoe jammer kry ek nou vir al die kulture regoor die wêreld wat nie skaapribbetjie ken met die vet pure kaiing gebraai nie.
Stuur die gratis nuusbrief aan vir jou pêlle, dat hulle ook kan inteken op www.dinevanzyl.co.za As hulle nie van boerekos wil weet nie, onthou net: mens word aan jou vriende geken en wie wil nou sulke vriende hê?
“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”
Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This