Ek toer tans rond om navorsing te doen oor boerekos. Ja, ek is nog lank nie klaar nie. Toe “Die Groot Boerekosboek” saamgestel is, moes daar ‘n volle 10,000 woorde gesny word, anders was die boek so swaar soos die Statebybel. Dit het my baie gepla, want wat moet jy uithaal, wat moet bly?

Sedert die verskyn van die boek het ek soveel mense ontmoet wat nog van die oukosse maak soos ek as kind geken het. Dink maar aan kaiingbrood. Sommige geregte is reeds vergete en word glad nie meer gemaak nie, maar mense praat nog daarvan. Ek het nog niemand ontmoet wat haksel maak nie – daardie heerlike gereg van lewer, niertjies en hart. Dit maak my benoud, hierdie resepte moet behoue bly.

Die malperd is dus opgesaal en “Boerekos 2” verskyn volgende jaar. Nou is dit jou laaste kans om Ouma se resepte te laat opneem. Ek was Woensdag by Pieter en Elna Hurter op Hermanus. Daar kry ek lieflike resepte van haar ma en ‘n pragtige foto van Ouma en Oupa. Dis outyds, dis nostalgies, dis pragtig, dit mag nie verlore gaan nie. As jy ook resepte en ou foto’s het, laat weet my asseblief, ek sal graag daarna wil kyk.

En as jy van iemand weet wat boerekos maak, laat weet my ook. Ek soek mense wat kan inlê, uitrol, stowe, droog. Dis ‘n belangrike projek, iets wat ons vir die nageslag moet bewaar.

Ek soek nie kortpad geregte waarby uiesop of Coca-Cola gevoeg word nie.

Met al die gekokery en gekuiery word daar gedink aan die moontlikheid van ‘n opvolg vir die “Boerekos met Dine van Zyl-reeks” op KykNet en ek soek solank mense wat daarin kan optree. Ek sal volgende week daaroor skryf, maar onthou solank ek soek nie moderne kombuise of die nuutste toerusting nie. Ek soek juis ou kombuise, die getjipte emalje-kommetjie, die gebruikte mes. Dit is goed wat nostalgie oordra, wat mens laat dink aan die dae van koestering.

Ek en die regisseur, Riaan Badenhorst, het lank gesit oor wat ons met die reeks wou bereik. Dit was kennis, nostalgie en ‘n goeie gevoel. Mense sê altyd hulle voel so lekker as hulle my boeke gelees het. Ons wou dieselfde met die reeks doen, en die reaksie was méér en groter as wat ons verwag het.

Onthou dit as jy dink aan name vir die boek en vir die reeks. Ons soek nie opgesmukte mense nie. Ons soek nie blink mense nie. Ons soek eerlike, mooi mense en eerlike, heerlike boerekosresepte.

‘n Boerekos onthaal

Verlede naweek was ek by ‘n onthaal waar net boerekos bedien is. Toe mens instap by die lokaal, kon jy die kos ruik wat staan en stowe. Salig warm en geurig. Vergelyk dit met ‘n plek wat soesji bedien – daar ruik dit na rou vis, wat eintlik niks anders is as kreefaas nie. Nee man, daar is mos geen vergelyking nie.

Met die aankoms het die mense snoepies gekry wat deur boerekos geïnspireer is. Daar was biltong op ‘n stokkie, stukkies droëwors in bondeltjies gebind, die allerheerlikste lewerpatee op broodjies en snoekfrikkadelletjies. Vir vegetariërs was daar stukkies gestoofde kweper.

Die mense moes lekker eet. Hulle betaal ‘n klomp geld en hulle moenie honger weggaan nie.

Toe word daar nie net een ou voorgereggie bedien nie, maar sommer drie op die bord. Smoorsnoek, ouvrou-onder-die-kombers (koolfrikkadel) en skilpadjies. Hierby het elkeen ‘n roosterkoek en appelkooskonfyt gekry.

Vir hoofgereg was daar hoenderpastei met ‘n goeie pasteideeg, daar was die heerlikste bobotie en daar was tamatiekos wat van springbokskenkels gemaak is.

As bykosse was daar slaphakskeentjies, stoweboontjies met ‘n stuk skaapvleis in, en stampkoring wat soos geelrys gekook is, m.a.w. met ‘n bietjie borrie en rosyntjies. As jy dit by die huis maak, probeer hanepootrosyntjies kry. Dit is groot en geurig en het gewoonlik pitte in. Julle manne moet daai pitte fynkou, dit bevat yster en sit lood in die potlood.

(Het jy al vandag jou rosyntjies gehad?)

Teen daardie tyd was almal lekker vol, soos dit hoort. Ons Suid-Afrikaners het mos nie end nie. Maar toe kom die spyker in die doodskis – Jan Ellispoeding – en ‘n laaste sondige soetheid saam met die boeretroos: Retha van Caledon se koeksisters.

Al hierdie resepte is in “Die Groot Boerekosboek”, behalwe die snoek in quiche-doppies, dis in “Nog ‘n stukkie”.

Die funksie was ‘n fondsinsamelingsdinee op die wynlandgoed Rhebokskloof, ten bate van “Give me a Chance”, ‘n organisasie wat talentvolle, maar behoeftige leerlinge finansieel bystaan. Dit is deur ASLA Konstruksie geborg.

As jy meer oor “Give me a chance” wil weet, kyk by www.givemeachance.co.za, dit is ‘n voortreflike organisasie.

Laat weet die ander

Stuur asseblief my nuusbrief aan jou pêlle, dan kan hulle self inteken deur op my webblad te gaan. www.dinevanzyl.co.za

Daar is nog baie mense wat gereeld vir my skryf en vra waar kan hulle my boeke kan koop. By Leserskring en die boekwinkels, hartjie. Of by my, op my webwerf, as jy ‘n getekende eksemplaar wil hê.

Die einde is naby

Iemand bring dit vandeesweek onder my aandag dat daar nog net 11 weke oor is na die einde van die jaar. Gelukkig is dit die einde van die jaar, nie die einde van die wêreld nie. Alles sal nog net dieselfde wees, arm maar geduldig en lus vir lekker kos.

Ons sal nog steeds tamatiebredie maak en stry oor boerewors en ek sal nog steeds oorlog maak teen ‘n pakkie soppoeier in jou bredie.

Gaan kook nou lekker hierdie naweek. Hier by ons is dit koud, daar is sneeu op die Bolandse berge en daar word vloedreën verwag. Ons het waterblommetjies gekoop by Louis van Copenhagen by Affie Plaas, daardie beste, beste plaasstal net buite Robertson.

Ons gaan nou deurry Laaiplek toe en vleis van ‘n tweetand koop by die slaghuis. Dis tyd vir potjiekos!
“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”

Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This