As daar nou een ding is wat ‘n hond se hart bly maak, is dit om skaapafval te ruik wat kook. Hy weet goed al daardie skedels en kakebene gaan nie tafel toe nie en as hy net lank genoeg kop-op-die-pote lê, met so dan en wan ‘n suggie net om te herinner hy is ook daar, dan gaan daar daardie kakebeen sy kant toe kom.

So is dit vanoggend met Boetman en trawante. Soos ek vir julle skryf, prut my afvalligheidjie rustig in die kombuis, terwyl dit ‘n geknars van skaapkakebene is hier buite my kantoorvenster. Hondehemel.

Nou weet julle wat op my tafel verskyn môreaand as my bure op en af in die straat kom kuier.

Ek maak ook pampoensop, Graham se gunsteling. My vriendin, Griet is ‘n vegetariër, nou kook ek die pampoen in water pleks van aftreksel, met ‘n knoffeltjie by.

Maar wag laat ek vertel hoe, want soveel lekkerkry moet mens deel. Ek het 3 botterskorsies, 2 uie en twee groen appels geskil en opgekap en dit in botter gebraai. Daar kom ook 1 knoffelhuisie en 1 t vars gemmer by (gestamp).

Hieroor is omtrent 500 ml kookwater gegooi en toe kom daar ‘n titseltjie van dié en ‘n titseltjie van daai by. Moenie vra hoeveel nie, so na gedagte, maar wees suinig, jy kan altyd byvoeg maar nie uithaal nie.

Fyn koljander, komyn (jeera), sesamiesaad, kruisement, kaneel, neutmuskaat, witpeper, rooipeper en sout. Die belangrikste hiervan is die fyn koljander en die jeera.

Kook die spulletjie tot papsag, puree dit verder en proe of daar moet speserye bykom.

Nou roer jy room by, of vir ‘n meer eksotiese smaak, klapperroom. Bietjie-bietjie, tot genoeg. En hou aan met proe.

Griet sal lekker eet. Ingeval julle wonder hoe nou gemaak met die afval vir ‘n vegetariër? – sy kry ‘n stukkie vis. Daar is in elk geval van die mense wat ook nie hulle mond aan afval sit nie (is jy van daai?) – vir hulle maak ek ‘n skaappotjie met allerhande groentes by.

Daar gaan ook stampkoring op die tafel wees, en gestoofde droëperskes op die pit. Ek maak ook stoweboontjies, net met aartappel en ui, nie ‘n stukkie vleis by nie, sodat Griet dit ook kan geniet.

Soos julle sien, het ek niks teen vegetariërs nie, van my beste vriende is vegetariërs. (Maar ek wil nog die dag sien wat sy ‘n lekker skaapkop uitsuig).

Wat vir nagereg? Ek het gemik vir roomys en ‘n fles vrugte oopdraai, dis my lui-manier, en Graham het nie juis sin daarin nie. (Hy het dit al te dikwels gekry). Dit bly vir my lekker. Amanda Conradie van Robertson maak die lekkerste ingelegde kwepers, dis salig met vla. Dan het ek ook perskies, soos ons sê.

Ek het al agtergekom as dit kom by nagereg, is ek te lui om aandag aan die poeding te gee, maar Graham wil asseblief daai malvapoeding of Jan Ellispoeding hê wat in Die Groot Boerekosboek is. Daar is net een fout met daardie twee poedings: dis altyd te min.

Onthou die verskil tussen die twee: malvapoeding het brandewyn in, Jan Ellispoeding het geen alkohol in nie. Die “malva” in malvapoeding verwys na Malvesy-wyn, ‘n gefortifiseerde wyn wat gewild was in die middeleeue in Europa. En dis hoe oud ons poeding is. Hier aan’t Kaap was daar nie Malvesy nie, toe gooi hulle maar Kaapse brandewyn by – en dit heet vandag malvapoeding.

Nou ja, ek sal seker gebakte poeding die naweek maak. Ek hoop om dieselfde van julle te verneem, moenie lui wees nie – lekker was nog nooit sleg nie.

Dankie vir almal wat my nuusbriewe aanstuur vir vriende. Hulle kan self gratis inteken op www.dinevanzyl.co.za , waar my boeke ook bestel kan word.

Dan groet ek uit ‘n pragtige vroe-winter hier langs die see. Die honde lê nou hier langs my, hulle lippe klou aan mekaar vas van die taai afvalsous.

Pin It on Pinterest

Share This