If you would like to receive the newsletter in English in future, please reply “English”.

Daar is soveel mense hier en in die buiteland wat my boeke in Engels aanskaf, dat dit onregverdig sal wees om nie ook vir hulle ‘n nuusbrief te stuur nie, maar dit gaan maar tjorts om dit in Ingels te skryf.

Om ‘n boek te maak

Ek gee altyd vir jou wonderlike nuus op ‘n Vrydag. Hierdie keer is die wonderlike nuus dat Die Groot Boerekosboek 2 tans gedruk word, alles is op skedule en soos dinge nou staan, sal dit die eerste week in Julie uitgepos word. Ek sal jou op hoogte van sake hou.

Mense vra soms vir my hoekom ek my boeke self uitgee.

Oor ek dit lekker is, dis hoekom. Die boeke is my idee, my navorsing, my kreatiwiteit. Waarvoor sal ek dit vir iemand anders gee om verder te geniet? En buitendien wil ek seker maak dat hierdie kreasie van my voorkeurbehandeling kry, die soort behandeling wat net ek daarvoor kan gee.

Ek het geen baklei met geen uitgewer nie, om die waarheid te sê, van my stories verskyn binnekort by NB-uitgewers in ‘n bundel en ek hoop om in die toekoms weer fiksie deur hulle uit te gee.

Die resepte word hier in my kombuis getoets en afgeneem in my omgewing. Ek gebruik net natuurlike lig en niks word gestileer nie. Alles is soos dit is. Ek hou van kos op my bord, nie ‘n kunswerk nie. En buitendien moet die kos toeganklik wees, jy moenie dink dis bokant jou vuurmaakplek nie.

Soms knor dit maar, soos die dag toe ek op die stoep afneem, oor dit te donker in die huis is. Die wind waai woes en toe ek later na die foto’s kyk, lê die pietersielie op die tafel, pleks van op die bord – en die neutmuskaat het heeltemal verdwyn.

Hier’s ook bobbejane en jy moet jou foto geneem kry voor ta dit ruik, want dan het jy probleme.

Dit het ook dikwels gebeur dat die kos te lekker lyk en ons dit opeet voor ek dit kon afneem! Môre moet ek die hele spulletjie weer kook. Dis dan wanneer jy agterkom jy het nie meer al die bestanddele nie…

Annelerie van Rooyen doen die redigering, want mens sien nie jou eie kind se bakore nie. Ons het ‘n lekker werkverhouding, sy redigeer nie ‘n ding dood nie. Afrikaans is so ‘n lekker kwylbektaal, mens kan kook in Afrikaans!

Liezl Maree doen die uitleg. Ons sit en garrie-garrie voor haar rekenaar en so ‘n week later stuur sy vir my die proewe. Dan’s dit darem vir jou lekker, hoor.

Daar’s nog ‘n paar ander tegniese dinge en dan word die boek gedruk. Ek laat druk in die buiteland, anders sou dit onbetaalbaar duur wees.

Hier op ‘n dag hoor mens net gor-gor-gor soos ‘n kar se ratte krap en dis ‘n stofstreep in ons dorpie se strate en die koerier hou voor my deur stil. As ek daai pakkie met die eerste twee boeke in ontvangs neem, bewe my hande so, dat ek sukkel om te teken daarvoor.

Jy vat daai gewigtige pakkie (my boeke is nie effentjies nie) huis toe en maak dit oop en in jou hande lê jou boek in al sy mooiheid en al sy kleur en sy nostalgie en sy lekkerte.

“Die Groot Boerekosboek 2” sal my tiende boek wees (ek het ook romans geskryf) en ek is net so gespanne daaroor om dit te ontvang soos met die eerste een. Dit is ‘n lekker gespannentheid.

‘n Paar weke later laat weet die invoeragentskap die skip is op pad, en So-en-so is sy naam. Ek hou die internasionale weer dop – mag die waters kalm wees! Met die vorige boek was daar ‘n woeste storm in die Kaap en ons moes ‘n week wag voor die skip kon aflaai. Toe was daar ‘n opeenhoping ook en in my onnoselheid het ek ‘n datum gegee waarop ons sal uitpos – o die drama!

Maar al daai drama is lekker – en dis hoekom ek self uitgee. Die kreatiwiteit, die bemarking, die spanning, die geweldige ondersteuning wat ek van die lesers kry.

Volgende week vertel ek verder – ek vermoed ons sal dan al gereed wees om bestellings te neem.

Rietpoel se vrolike VLV

Hierdie week het ek by die VLV by Rietpoel in die Overberg gepraat met hulle 58ste verjaardag. En met tipiese boere-gasvryheid, is ek oorlaai met geskenke. Daar was die lekkerste beskuit, en daar was tuisgemaakte kaas van Desiree Kingwill van Riviersonderend, van Jerseymelk gemaak. (Sel 082890 7156)

Tannie Christie Groenewald het ‘n melktert gebak wat Graham in verwondering laat sê het, dis die mees imposante melktert wat hy ooit gesien het. Blaardeeg wat lagie op lagie omkrul, met die melkpap binne-in egalig en geurig. Ek het nog nooit tevore so iets fantasties geproe nie. En nee, ek het nie die resep nie, ek wens ek het dit gehad.

Christel Viljoen het ‘n lamsboud van lekker Overbergse vleis gegee en ek gaan dit hierdie naweek gaarmaak volgens Helena Swart se metode:

1 lamsblad of -boud

5 ml (1 t) koljander, gestamp

5 ml (1 t) growwe sout

2,5 ml (½ t) varsgemaalde swartpeper

30 ml (2 E) kookolie

4 groot wortels, opgekap

1 groot ui, opgekap

6 preie, opgekap

6 aartappels, geskil

1 knoffelbol, deurgesny

500 ml (2 k) vleisaftreksel

Die lamsbladjie word eers lekker met koljander, sout en peper bestrooi. Braai die bladjie in die kookolie in die platboompot tot dit geelbruin vertoon. Haal uit die pot en braai die wortels, uie en preie tot dit begin verkleur. Voeg die aartappels by.

Sit die lamsblad op die groente in die pot. Die twee helftes van die knoffelbol word so heel ingesit. Giet die vleisaftreksel in die oondskottel, sit die deksel op en steek vir ongeveer 3 uur in die oond teen 140 °C. Haal die deksel af en braai nog ’n uur, tot alles mooi bruin is. Die vleis sal murgsag wees en van die been afval.

Jy kan die hele besigheid natuurlik in jou platboom swartpot maak, sit sommer so ‘n paar koletjies op die deksel ook.

Helena bedien die boud met gepekelde suurlemoen en die resep daarvoor word in Die Groot Boerekosboek 2 gegee, wat in Julie verskyn. Gie-gie, ek het dit nie eintlik vir bemarking bedoel nie, maar nou weet jy om dit te bestel.

Ok koebaai

Julle moet die naweek geniet. Druk die boud in die oond en gaan sit reguitbeentjies – ek gaan dit doen.

“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”

Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This