Nou ja, KKNK 2013 het gekom en KKNK 2013 het gegaan. Hoe fantasties is dit nie dat Jans Rautenbach en trawante 19 jaar gelede die visie gehad het om dit te begin nie. Daarna het soveel kunstefeeste, woordfeeste, kultuurfeeste gevolg, dit kan net goed wees vir ons.

Ek gaan nou eers pluimpies uitdeel, dan bietjie monduitspoel en dan weer mooi goed sê. Byt vas en lees tot die einde, asseblief.

Behalwe die lekker kultuurgoed, lê my belangstelling natuurlik by die kosgoed – die boerekosgoed. Maggies, maar daai roosterkoeke was vir jou ghoema-groot. As jy so een in het, is jy behoorlik dik. Ek het ongelukkig nie daarvan gekry nie, maar het gehoor daar was afval en ander boerekosse te koop. Ek is so trots om dit te hoor.

Op pad Oudtshoorn toe het ek by ‘n plekkie gestop wat tradisionele kos soos bobotie en skaapvleispastei aangebied het. Ek besluit op die pastei – groot fout. Watse vleis hulle gebruik het, weet ek nie, dit was veselrig en het glad nie na skaap gesmaak nie. Dit het na volstruisvleis gelyk, maar ek kon dit nie proe nie, want dit was verdoesel met geuropkikkers. Daar was ‘n groot sening in wat ek nie vir my hond sou gee nie.

Nee sies man, ga! Dis boereverneuk. Daar was ‘n klomp buitelanders, ek skaam my dood.

Die aand was die ete op Oudtshoorn ewe teleurstellend. Die hoenderpastei het pakkiesop ingehad. Die sampioensous daarby het ook uit ‘n pakkie gekom, met vars sampioene bygevoeg. Die wildspastei, ag liewe deug, was so vol MSG en ander derglike booshede, jy het lankal klaar geëet, dan water jou mond nog van die geuropkikkers. Dieselfde met die spinasietert, alles, elke liewe ding wat ek opgeskep het, het my mond geprikkel, behalwe die skorsie.

Hoekom glo die mense dat ons sout en speserye is nie goed genoeg nie? Is ons al so opgevoes dat ons nie meer ordentlike kos kan proe nie?

Daar word deesdae ewe op pakkies gesê “bevat geen MSG nie”. Maar dan is daar steeds geuropkikkers in onder ander verdoeselde name.

Dit laat alles lekkerder smaak en selfs kos wat verdag is, soos droëwors met allerhande lelle en drelle in, smaak heerlik. Maar dit gaan nie net oor die geur nie, dit gaan oor die gesondheid. Dit kan kinders wipperig maak, dit kan jou derms opkeil, dit kan jou asma gee, en en en. Dit kan jou ook knorrig maak, en maak my beslis knorrig. Ek, wat altyd in ‘n goeie bui is – jy kan mos lees ek is nou moeilik. En dis alles daai byvoegings se skuld.

Dankie, nou het ek klaar gemor. Nou kan jy met geruste gemoed verder lees, en as jy later nog oor die duiwel se geurmiddel wil weet, gaan lees op http://fedup.com.au/factsheets/additive-and-natural-chemical-factsheets/621-msg-and-the-new-flavour-enhancers of Google “flavour enhancers”.

Wildsvleis

As ‘n wildsbok jou aanval en jy jouself moet verdedig, kan jy ‘n wonderlike gereg maak sonder opkikkers. Wildsvleis net so opgekook in water met sout, is klaar geurig genoeg. Dis ons tradisie om koljander en kruinaeltjies by te sit, en ‘n skeutjie asyn. ‘n Bietjie varkspek of skaapstertvet daarby maak dinge net lekkerder.

Maak hierdie wildspot, verander dit na gedagte. Hier word wyn pleks van asyn gebruik. As jy liewers die wyn wil drink, gebruik ‘n kwartkoppie bruin druiweasyn, kook goed deur en proe. Ek gaan sowaar nie die metode gee nie, jy weet mos hoe.

2 uie, fyngekap

4 knoffelhuisies

olie om in te braai

2,5 ml (½ t) fyn kruinaeltjies

2,5 ml (½ t) fyn neutmuskaat

30 ml (2 E) grofgemaalde koljander

2 kg wildsvleis

4 skaapstertjies met die vet aan

30 ml (2 E) sout

5 ml (1 t) fyn swartpeper

4 vars lourierblare

4 takkies roosmaryn

4 takkies tiemie

250 ml (1 k) rooiwyn

15 ml (1 E) Worcestersous

250 ml (1 k) water of meer

4 groot wortels, opgekap

Hierdie Sondagaand om 6-uur op KykNet kuier “Boerekos” in die Karoo. Mannetjies Roux se Charlotte maak skaapribbetjie, Annatjie Reynolds maak wildsboud met netvet oor – ‘n wonderlike plan, Marinette Viljoen maak lewerkoekies. Julle moet kyk, jou mond sal water.

Nou ja, dan groet ek maar. Geniet die naweek, hier by ons is dit die lieflikste silwer herfsdae. Mens voel sommer lief vir almal. En hou aan met kook, maak die lekkerste kos, geniet dit met jou mense.

Van die nuwe intekenaars, julle kan “Die Groot Boerekosboek” op my webblad by www.dinevanzyl.co.za bestel. Die ander het reeds, hulle kan saamgesels.

“Ek kook – soms selfs in die kombuis”.

Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This