‘n Tweetand vir gemoedsrus

Het julle onlangs na die vleispryse gekyk? En het julle al die verdoemende stories gehoor van hoekom vleis nog duurder gaan word? Boonop raak alles hierdie tyd van die jaar duurder en dis my gewoonte om soveel moontlik klaar te koop voor die einde van Oktober.

My kaste is vol soos in die dae toe ons die Groot Politieke Onrus verwag het en pakkies boontjies opgegaar het.
‘n Groot geluk het my getref toe ek ‘n tweetandskaap raakloop, dit bly maar die beste vleis. Boonop was daar min vet aan die skaap, net reg.

Die prys is baie beter as lam, maar hy tjingeling steeds as jy moet betaal; gaan draai by die R1,000.

Ek het huis toe gekom en die vleisies met sorg en liefde verpak. Tjops vir braai, een blad en een boud heel vir die oond, die ander blad opgekap vir die pot en die ander boud heel vir sosaties. Een rib heel vir soutribbetjie, een gekap om met die res van die stowevleisies te meng vir potjiekos.

Een blad en een boud heel vir die oond, die ander blad opgekap vir die swartpot en die ander boud heel vir sosaties. Een rib heel vir soutribbetjie, die ander een gekap om met die ander stowevleis te meng vir potjievleis. Ek gebruik altyd ‘n mengsel vir my pot, hou van die verskillende teksture.

En dan is daar natuurlik die tjops vir braai.

Die nek is in die lengte deurgesny om te stowe en dan te braai.

Ag, salige dag. Dit ruik na somer, dit ruik na vakansie, dit ruik na stoepsit.

Maar hierdie naweek nog maak ons regte outydse rugstringpastei.
Rugstringpastei met ‘n slapdegie

Rugstringpastei met ‘n slapdegie word vandag nog so hier en daar op die platteland gemaak. Die vleis word gaargestoof, die bene uitgelig en die deeg oorgegooi, die pastei in die oond gebak.

Daai’s nie rêrige rugstringpastei nie. Vir rêrige rugstringpastei moet die bene nie uitgehaal word nie, maar ten hemele uitsteek deur die gebakte deeg dat dit soos ‘n moderne kunswerk lyk.

Jy kan skaap, boerbok of wild hiervoor gebruik en jy gaan na jou pioniervoorvaders verlang, want jy sit met ‘n groot porsie ongekunstelde rugstringpastei op jou bord: ‘n skon-agtige deeg en bruingestoofde vleis en bene om later af te suig.

Die resep is genoeg vir 6 mense, almal gaan groot skep. Dis 350 g per persoon, maar onthou daar is bene by.

Die vleis

ongeveer 2,1 kg rugstring of skaappotjievleis
30 ml (2 E) kookolie
2 fyngekapte uie
2 fyngekapte knoffelhuisie
15 ml (1 E) grofgemaalde koljander
15 ml (1 E) sout
60 ml (handjievol) bruinasyn
1 k kookwater
Gebruik ‘n swart platboompot. Braai die vleis in die kookolie tot dit bruin is aan die buitekant. Moenie als gelyk braai nie, dan raak jou pot koud en trek die vleis water.
Voeg die uie en knoffel by en braai.
Strooi die koljander en sout oor.
Sprinkel die bruinasyntjies oor die vleis en giet die kookwater in die platboompot.
Sit nou die deksel op en laat die vleis stadig stowe, sê maar so twee uur lank.
Skakel die oond aan op 180º C en maak die slapdegie.

Die slapdegie
500 ml (2 k) koekmeel
15 ml (1 E) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
2 eiers
250 ml (1 k) melk
250 ml (1 k) kookolie
Meng die meel, bakpoeier en sout.
Klits die eier, melk en botter saam.
Gooi die meelmengsel by die nat mengsel en klop goed, sorg dat daar geen klonte in is nie.
Gooi die slapdegie oor die gaar vleis en bak vir 30 minute teen 180 °C.

Doen dit in die veld
Hierdie rugstringpastei kan met groot sukses in die veld gemaak word. Dis juis bedoel daarvoor, ‘n gereg uit die pioniersjare.
Stoof die vleis in ‘n platboompot, klits al die bestanddele vir die slapdegie bymekaar, gooi dit oor die vleis en sit die pot se deksel op. Skep kole op die deksel. Na 30 minute behoort die deeg reg te wees, so ‘n lekker kors op die vleis, wat die sous van onder opslurp.

Om boerbokvleis te besing
Die eintlike, beste manier om rugstringpastei te maak, is om boerbokvleis te gebruik. Boerbokvleis is gesonder as bees, skaap en hoender, want dit bevat minder vet.
Goeie boerbokvleis smaak soos skaapvleis, net meer so. Dit is geurig, sag en gesond. Ek is gaande daaroor, net jammer mens kan dit nêrens koop nie.
Stuur asseblief vir my ‘n karmenaadjie as die boerbokke jou blombedding opvreet.

Skryf vir my
Ek kry dikwels terugvoering oor die resepte wat ek gee. Gaan maak nou hierdie pastei en laat weet my hoe dit was.

Boerekos 2
Baie dankie vir die terugvoering op my versoek dat ek ou boerekosresepte soek vir ‘n opvolg op “Die Groot Boerekosboek”. Daar was kosbare bydraes.
Ek is ook solank besig om inligting te versamel indien ons Boerekos 2-reeks vir KykNet goedgekeur word.
Boerekos is die kos wat mense elke dag eet of geëet het. Dit maak gebruik van dit wat in jou omgewing is, of wat jou herkoms of tradisie jou leer. Dit moet onopgesmuk wees.
Wat is die gewone middagmaal?
Wat van buite gaarmaak in ‘n pot?
Ek soek droëvrugteprodukte, blatjang, konfyt, konserf, vrugterol en en en.
Ons wil graag van die werkers ook bykry. Baie keer is dit nog net hulle wat die boerekos maak in die witmense se huis en weet die boervrou nie meer hoe nie!
Ek soek bakkers. Ek soek kleinkoekies, beskuit. Ek soek regte, egte soetsuurdeeg (nie aartappelgis nie).
Ek soek enige boerekos, maar dit is belangrik dat daar nooit ‘n pakkie sop bygevoeg word nie. Gebruik liewers net sout. Ook nie Bisto by bredies of vlapoeier in geregte nie. Gebruik Maizena of meel om te verdik.
Die mense moet asseblief geen verandering aan die kombuis aanbring of nuwe kastrolle koop nie. Ons soek juis die enemmilkommetjie met die getjipte rant en die ou houtbord. Ons soek gewone mense by wie mens graag gaan kuier, nie blink mense nie.

Krismis kom ook aan
My boeke is beskikbaar by boekwinkels, of getekende eksemplare kan bestel word op my webblad www.dinevanzyl.co.za
Stuur asseblief die nuusbrief aan na vriende, sodat hulle ook kan inteken en ons ‘n hele boerekos-herlewing kan hê. Dit is nogal aan die gebeur, het julle agtergekom? Ek dink ek het ‘n groot aandeel daaraan, dit was en is steeds my missie om boerekos te bevorder, en ek doen dit graag.

Pin It on Pinterest

Share This