Mense vra dikwels vir my vir ‘n “lekker poeding”. Ek bly maar weg van die soetgoed, half bang vir die middeljare wat soos middelringe aan mens se lyf kom sit. Daarom is die poedings in my boeke almal goed, want ek het nie tyd en lus vir minderwaardige poedings nie. Ek vra mense wat die beste, beste poedings maak, toets dit en deel dit met julle.

So ‘n poeding is Tannie Stassen se tapiokapoeding. Tapioka word van die stysel van die maniok-wortel (casawa-wortel) gemaak, terwyl sago van die sago-palm gemaak word. Tapioka is die groot padda-eiers, sago is die klein padda-eiertjies. Jy kan poeding van beide maak, en jy kan sago ook in kos gooi om dit te verdik, soos by hoenderpastei of beesbredie.

Tannie Stassen woon op ‘n plaas naby Lambertsbaai. Sy is al oor die 80, maar doen nog flink haar ding. Sy het ‘n gastehuis op die dorp – waar sy alles self skoonmaak en die wasgoed self was en stryk, en sy het ook huisies op die plaas waar mense kan kom oorbly wat die kreef staproete doen. Hulle sê haar ontbyt is om van huis toe te skryf.

Volgende week, beginnende Sondagaand 6-uur, kuier “Boerekos met Dine van Zyl” op KykNet aan die Weskus, en juis ook by Tannie Stassen, waar sy my wys hoe om haar tapioka-poeding te maak. Tannie Stassen was nou nie juis lus vir hierdie snuiter (dis nou ek) se onhandigheid met die roerdery nie, julle moet bietjie kyk hoe ongeduldig is sy en hoe dik van die lag (maar half skrikkerig) is ek.

Maar die poeding is fantasties:

Tannie Stassen se tapiokapoeding
375 ml (1½ k) tapioka
1 l melk
4 eiers, geskei
60 ml (4 E) suiker
1,25 ml (¼ t) sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) appelkooskonfyt
250 ml (1 k) suiker
Bedek die tapioka met koue water, week dit vir 3 uur en dreineer.
Kook die melk en gooi die tapioka daarin.
Roer tot die tapioka gaar en deursigtig is.
Meng die eiergele met die suiker, sout en vanieljegeursel en roer dit by die tapioka-pap in. Werk vinnig en roer vir die vale.
Gooi die pap in ’n gesmeerde oondskottel.
Skep lepeltjies appelkooskonfyt bo-op.
Klits die eierwitte goed styf en klits dan die koppie suiker by. Skep dit bo-op die poeding.
Bak vir 12 minute teen 180 °C tot die skuimpies begin bruin verkleur.

Ons het ook by Pierre Bester se vakansiehuis aangedoen, waar hy vis gerook en ek viskuite gebak het. Die snoekseisoen begin juis in Mei (die eerste maand sonder die r), dan rook ons weer dik stukke. Snoek, bedoel ek.

Daar is nog ‘n paar manne wat seekos wys, en ‘n skaapstertjiepot maak en dan wys Kitta Burger, ook van Lambertsbaai se wêreld, hoe sy sousboontjies van Heerboontjies maak en sy maak haar ongelooflike lekker stowepatats met soetanys. Soetanys is ‘n streekstaal vir anys.

Daai soet moet jy ook nie weggooi nie, kyk as Kitta sê soet, dan bedoel Kitta soet. Sy bly aan die suiker bygooi, die patats is later deurskynend soet. Ek stik aan die soetheid, maar kyk hoe lekker die ander mense! Ek maak nou graag soetanys stowepatats, dis baie lekker met ‘n bottertjie.

Ons gaan die naweek weer so ‘n bietjie Weskus toe, Graham se kleinkinders het so lekker elwe gevang verlede naweek, toe braai hy dit en ons almal het ‘n proesel gehad. Hoe geseënd is ons nie in Suid-Afrika nie, dat die kinders so kan baljaar. Dit maak nie saak waar jy bly in Suid-Afrika nie, jy kan in jou kar klim, ‘n uur of wat ry en jy is in die natuur. Baie van ons is gelukkig om sommer in die natuur te bly.
Waar vang die kinders in Parys vis?

So van vis gepraat – onthou van daardie fantastiese ingelegde visresep in Die Groot Boerekosboek as jy oor die Paasnaweek vis wil bedien. Ek gaan nou my uie begin skil vir die sous.
Nou dan groet ek maar met die wens dat jy hierdie naweek gelukkig wees. As jy jou voorhek ooplos, gaan geluk nie vanself instap nie, jy moet hom gaan soek, jy moet hom maak gebeur.
Stuur asseblief my nuusbrief aan vir ander mense, sodat hulle self kan inteken op my gratis nuusbrief op www.dinevanzyl.co.za

“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”

Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This