Die hele besigheid van ‘n reeks oor boerekos het begin toe ek ‘n program op BBC Food kyk. Ek dag, ja nee, ek kan daai Jamie Oliver niks leer oor die wonderlike Mediterreense kos nie – maar hy kan vir my niks leer oor boerekos nie.

Ek was besig om “Die Groot Boerekosboek” te skryf – nee wag nou, hou vas aan jou roksak, handsak, sysak, broeksak, dit verskyn eers in Junie. My kop was vol boerekos. Ek het boerekos gekook, geëet, geleef. Nóú was dit die regte tyd om ‘n televisiereeks oor boerekos te maak.

Saam met Riaan Badenhorst van Pieter Cilliers Produksies – julle ken sy werk op Kwêla – het ons boerekos herontdek. Ons het elandpot gekook onder rotskuns van elande, ons het waterblommetjiebredie gemaak op die oewer van die Breede, ons het harders gebraai aan die Weskus, ons het Hertzoggies gebak in die Strandveld, ons het koeksisters hoor sis in die stroop op Caledon, bros van buite en salig soet van binne.

Dit was salig, hemels, lekker. Ons is nog nie klaar geskiet nie, die lekker hou aan, maar die uitsending begin hierdie Sondag. Moe-nou-nie agterna kom sê so jammer jy het dit gemis nie. Maak ‘n knoop in jou oor vir die uitsaaitye (heel bo).

En Jamie Oliver, sawwe lippe en al, het nog baie om te leer. Soos dat ons tamatiebredie met ‘n flentertjie vars groengemmer maak, dat soutribbetjie sing as dit braai op die kole en dat ‘n “skilpadjie” nie vier pote het nie.

Die resepte wat in die reeks gebruik word, sal verskyn op www.pcp.co.za, op www.kyknet.co.za en op www.boerekosresepte.co.za – dis my nuwe webwerf net vir resepte en dit sal vanaf Maandag in werking wees.

Nou oor “Die Groot Boerekosboek”. Dit verskyn in Junie. Daar sal ook ‘n Engelse weergawe wees, “The Great Boerekos Book”. Ek belowe ek sal vroegtydig laat weet sodat getekende eksemplare direk van my kan bestel word teen ‘n spesiale prys.

Dan groet ek nou maar eers. En o ja, almal van julle wat so nuuskierig is, maar te bang om te vra: dit gaan goed met die liefde, dankie. Ek leef my droom vanjaar. Daar is ‘n nuwe boek op pad, ‘n TV-reeks oor boerekos, ‘n sielsgenoot wat my soos ‘n prinses behandel.

Nou weet julle: “ek kook – soms selfs in die kombuis”.
Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This