Dankie vir al die lekker terugvoering en aanmoediging. Daar was ook ‘n paar interessante vrae, soos Johann Fölscher wat uit die VSA vra, waar kry mens ‘n tweetandooi in Minnesota?
Antwoord: ek weet nie.

Rynette van Vuuren het ook uit die bloute gevra wat is ‘n “vaaljapie-skop?”.
Antwoord: Tydens die dopstelsel, toe Bolandse plaaswerkers elke dag wyn gekry het, is daardie wyn “vaaljapie” genoem. Vaaljapie is jongwyn wat nog nie gebrei, of blinkgemaak is nie. Omdat dit ‘n afsaksel het, was die wyn “vaal” – dus vaaljapie.

‘n Ander naam daarvoor is volkswyn.

Vaaljapie-skop is ‘n vaaljapie-dop. Vandag is dit enige dop van goedkoop wyn. Dit kom deesdae uit ‘n papsak, of ‘n boks – papsak is nou ook al stopgesit.

Die woord vaaljapie word ook anders gebruik. ‘n Persoon kan ‘n vaaljapie wees. ‘n Donkie kan ‘n vaaljapie wees. Iemand het al na haaie as “vaaljapies” verwys.

Vaaljapie is ook die naam van ‘n trekkertjie.

Wanneer laas het jy beesstert gemaak?

Rosaline Koopman het van Touwsrivier se wêreld in die wynlande van Worcester aangekom – agter ‘n man aan.

Sy het by die Conradies op die Nuyvallei plaas gaan werk, waar Irma haar na die hand geleer het.

Vandag is Rosaline die voorslag in die kombuis, wat kook, bak en inlê vir die gastehuis en vir onthale – en die man is lankal uit haar lewe uit.

1 beesstert
375 ml (1½ k) meel
30 ml (2 E) kookolie
1 gekapte ui
4 knoffelhuisies
15 ml (1 E) Worcestersous
250 ml (1 glas) rooiwyn
30 ml (2 E) wynasyn
2 lourierblare
10 ml (2 t) sout
2,5 ml (½ t) swartpeper
500 ml (2 k) beesaftreksel
30 ml (2 E) bruinsuiker (opsioneel)

Bedek die beesstertporsies met meel, braai dit in ‘n bietjie kookolie en skep dit uit.

In dieselfde kastrol, braai die uie en knoffel.

Voeg die Worcestersous, rooiwyn, wynasyn en lourierblare by en geur met sout en peper.

Giet die beesaftreksel oor, bring stadig tot kookpunt (dit moenie skuim maak nie) en laat prut tot die vleis byna van die been afval.

Proe aan die kos. Te suur? Voeg bietjie bruinsuiker by.

Skep die beesstertporsies uit en hou dit warm. Kook die sous af, dit behoort vanself te verdik omdat die vleis eers in die meel gerol is.

Jy het ‘n fantastiese gereg gekook, moenie dit nou gaan staan en opfoes deur ‘n pakkie beesstertsop daarin te roer nie. Dan smaak jou gereg na pakkiesop, nie na beesstert nie. Indien die sous te waterig is, verdik dit liewers soos hieronder beskryf.

Hoe om sous of sop te verdik
Maak ‘n beurre manié (bur-man-jy). Dis meel- en botterfrummels wat mens in jou sop of bredie roer om dit te verdik. Mens kan ‘n klomp in jou elektriese menger maak en dit in die yskas bêre, of selfs in bondeltjies in die vrieskas bêre tot jy dit nodig kry.

30 ml (2 E) sagte botter
30 ml (2 E) koekmeel

Roer die botter en koekmeel met ‘n houtlepel tot dit frummeltjies maak. Voeg dit by die gereg en roer tot dit gaar is en die sous verdik het.

O donkie, my nuusbriewe raak al langer. Jammer! Stuur aan vir jou pêlle wat in boerekos belangstel, dan kan hulle self daarop inteken op my webblad (onder). En indien hulle nie belangstel nie, gaan dink bietjie oor die vriendskap.

Julle wat nog boeke wil bestel vir Kersfees, kan dit doen op my webwerf www.dinevanzyl.co.za of mens kan die boeke natuurlik by enige boekwinkel of Leserskring kry. Maar wikkel liefies, die prys gaan op in die nuwe jaar.

Dan groet ek maar. Ons gaan die naweek na ‘n plek waar daar nie selfoonontvangs is nie. Dit kan net lekker wees.

Maar wat nou van die rugby? Staan asseblief met die hand op die hart vir my.

Pin It on Pinterest

Share This