Hier is net goeie nuus. Eers gaan ek bietjie pronk en dan kom daar ‘n wonderlike resep. As dit die eerste keer is wat jy die nuusbrief kry, ek stuur gewoonlik op Vrydagoggende uit, net reg vir die naweek, maar my ritme is bietjie betjoins, oor ek in Johannesburg was.

Die TV-reeks “Boerekos met Dine van Zyl” is genomineer vir die ATKVeertjies, en die uwe is genomineer vir beste aanbieder in die kategorie “Vermaaklikheids- en Lewenstyl”.

Ek hou nie van kompetisies nie, want ek doen altyd my bes. Kom die uitslae en die dice val verkeerd en iemand anders wen, voel mens mislik. Jy kan self ‘n wrok of twee hê, soos “wat weet hulle miskien?” en as jy vir die Stormers skree soos ek, “die ref was skelm”.

Boerekos was in TWEE kategorieë op die kortlys. Hoe’s daai vir spanwerk en professionaliteit? Ek is trots man, trots.

Dis hoekom my kop aangekap het. Ek was in Johannesburg en dis net of ek nie kon konsentreer vir die nuusbrief nie, groot askies.

Die aand is daar allerhande snoepies op stokkies en pasteitjies en bolletjies en krulletjies aangebied, alles baie keurig, maar eintlik wil julle die uitslae weet. Hier is dit:

In die kategorie “Beste Program” het die dice verkeerd geval, daai’s ma’ al, soos Adam Small sou gesê het.

Die laaste item was vir “Beste Aanbieder” en ek was later baie kriewelrig op my stoel. Toe kondig hulle dit aan: …en die wenner: Boerekos – Dine van Zyl. Handeklap en joegaai en al daai dinge, en soos ek vorentoe stap, flits die hele produksie in my gedagtes verby.

Waterblomme op die dam, melktert in ‘n ou, ou pan, skenkels en kluitjies, hoenderpastei, Hertzoggies, potbrood onder ‘n oorhangrots, kliprib, skaapnek oor die kole, wildsboud toegedraai in netvet, boerbokvleis.

Ek het gedink aan die jongmense wat saam met my hierdie wonderlike reeks geskep het, wat ‘n plesier was dit nie. Ek het gedink aan die deelnemers wat hulle kombuise en hulle harte vir ons en vir die kykers oopmaak het. Die koffie wat hulle voorgesit het, die beskuit, die vragte kos op die tafel, al die geskenke wat hulle in die bagasiebak gelaai het.

Ek het gedink aan die gewildheid van die program en ek het geweet hoekom dit so is. Daar is ‘n eerlikheid en ‘n mooiheid aan ons mense, ‘n onopgesmuktheid wat plaasstalletjies en toeristeplekke probeer naboots. Ons het nie hierdie huislikheid probeer skep nie, dit was reeds daar. Al die emaljekommetjies, die houtplanke, die rumatiekhande was daar. Al die gasvryheid. Die gewilligheid om kennis te deel en ons koskultuur te bewaar.

Mense hou daarvan, ons is keelvol vir geweld en slegte nuus. Ons wil net goeie goed hoor en sien, goed soos viskoekies en sousboontjies, gestoofde vrugte en wildsvleis.

As mens dink hoe onervare ek was as aanbieder (geen ervaring nie, eintlik), was dit dapper van Pieter Cilliers van PCP-produksies om die kans te waag en ook van Karin Meiring en haar span keurders van KykNet wat die ja-woord gegee het. Vandag is ek baie dankbaar daarvoor. Ek en Riaan het goed saamgewerk. Op die stel moes ons dink op ons voete, en nadat hy dit geredigeer het, het ons saam gesit en die teks geskryf en baie koffies gedrink.

Die reaksie op die reeks was oorweldigend, en nou met die heruitsending is dit steeds. Ek kry ‘n magdom e-posse per dag van kykers wat net wil sê , “Ons geniet dit, hou so aan.” En elke dag ook: “Wanneer kom die volgende reeks?”

Ek het mos gesê daar is net goeie nuus. Ek wil nie dinge vooruit loop nie, maar almal moet net asseblief positief in daai rigting dink en later in die jaar gee ek vir julle baie goeie nuus. Slyp solank julle messe.

Skaapstertjies

Wanneer laas het jy skaapstertjies geëet? Ek praat nou nie van daai dun stertjies van lammers nie, maar die dik sterte van ‘n uitgegroeide skaap. Mens kry dit in pakkies te koop, die ergste vet afgesny. Daar is net een happie vleis van ‘n skaap wat naby die lekkerte van skaapstertjies kom, en dit is die stukkie vleis agter die oor, brosserig en vetterig.

Skaapstertjies kan gekook en dan oor die kole gebraai word. Sout oor, dis al en jy sal jouself blinkbek vervreet.

Of jy kan dit in ‘n pot sit en stowe en op fynaartappels bedien. Ek sit dit graag in ‘n bredie.

Jy vat so 12 skaapstertjies en braai dit in jou swartpot tot die vet begin uitbraai. Gooi gekapte ui by en braai tot mooi goudbruin.

Strooi koljandertjies, kruinaeltjies, sout en peper oor, bedek met kookwater en laat prut tot die stertjies begin sag word.

Nou kom jou groente by. So twee hande vol groenboontjies, 4 groot wortels, opgekap, 4 groot aartappels, in kwarte gesny. Laat prut tot alles mooi sag is. As jy wil, kan jy ekstra vleis in die pot sit, daar is nie baie vleis aan skaapstertjies nie.

Waterblommetjies baat veral by so ‘n skaapstertjie of twee, saam met die ander vleis.

Nou het ek myself skoon kwylbek geskryf. Ek koop altyd my skaapstertjies by Affie Plaas op Robertson, daar is mense wat vir my sê hulle koop die slaghuis leeg op Colesberg. Waar kry jy jou skaapstertjies? En hoekom het ‘n skaap net een stert?

Nou dan groet ek maar

Stuur die nuusbrief aan vir jou pêlle, sodat hulle self kan inteken op www.dinevanzyl.co.za – dis ook waar jy getekende boeke kan bestel.

Wees lief vir almal om jou, en meng net met mense wat jou goedgesind is.

“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”

Dine van Zyl

Pin It on Pinterest