Die fantastiese nuus vir die nuwe jaar is dat die televisiereeks “Boerekos met Dine van Zyl” herhaal word vanaf hierdie Sondagaand, om 18h00. Dit beteken jy kan nou alles herkyk wat jy nie goed gekyk het nie, of sommer net van voor af lekkerkry.

Hierdie Sondagaand se program is die een waar ons waterblommetjies pluk op Robertson en ‘n waterblompot maak langs die Breërivier.

Ons pluk ook “oukossies”, die veldkos wat in die lente daar teen die hange groei. Oukossies ken ek al van my kinderjare af, die plaasmense het altyd die blommetjies van die stingels af gaan stroop en dan met die Voedsel- en Wynfees, het hulle o.a. oukos-bredie verkoop. O ha, dan eet jy daai en loop vandaar af oor na die stalletjie met sy lekker vaalafval.

Ek hoop hulle doen dit nog.

In die program maak ek malvapoeding en vertel waar die naam vandaan kom. Lees meer oor die herkoms daarvan in “Die Groot Boerekosboek”.

Wil jy vir my glo ‘n chef op Stellenbosch wat ‘n restaurant daar het, maak malvapoeding met die geur van malvablare? Dis baie lekker, maar nie malvapoeding nie en sy dis dit op as malvapoeding en sê waaragtig vir haar gaste dis waar die naam vandaan kom.

Ons weet van beter.

En dan is sy nog kwaad vir my omdat ek sê die malva kom van malvesy-wyn, wat gewild was in die middeleeue. Vandag sit ons nie malvesy in nie, maar brandewyn.

Ons kuier ook by die wonderlike Tant Hanna Arangies wat, behalwe die krakelinge wat sy bak, sulke wyshede kwytraak dat mense nou nog daarvan praat en daarby baat vind. Sy sê as sy bid, is daar nie tyd vir vra nie, daar is net tyd vir dankie sê.

Tant Hanna is nou al oor die neëntig en is steeds vrolik besig om te bak en te brou en handewerk te doen.

Ek is werklik bly die reeks word herhaal, hoewel mense my oorval met “wanneer kom die tweede reeks?” Ek weet nie, ek wag nog om te hoor, maar ek voel baie positief daaroor. Jy sal die eerste wees om te weet.

Hierdie jaar het teen so ‘n wilde galop weggetrek. Ek was hierdie week lekker by die Worcester Landbouskou en dan gaan ek by nog ‘n klomp plekke optree. Mosselbaai, Woordfees, KKNK. Dis ‘n fees.

Ek wil nog so baie dinge doen. Nog ‘n kosboek of twee skryf, nog ‘n roman en nog ‘n reeks aanbied. Mens raak ook nie jonger nie, ek wil ek kry alles gedoen terwyl ek nog al my tande het.

Mooi wense en al daai dinge vir 2013. Ag moet tog nie versimpeld wees en toelaat dat ‘n depressie jou slaan nie. As die lewe jou druk, gaan doen iets sinvols. Maak ‘n skottel sult en vat dit ouetehuis toe. Weet jy hoe lief gaan daardie ou siele vir jou wees?

Dan groet ek maar. Ek is besig om perkse-atjar te maak, lekker. Hoop julle druiwekonfyt staan al op die rak.

As jy nie hierdie nuusbrief direk van my kry nie, is jy nie op my lys nie. Jy kan gratis inteken op www.dinevanzyl.co.za en ook boeke daar bestel. Onthou boerekos maak jou seksie.

“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”

Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This