Van vandag af skryf ek ‘n Afrikaanse en Engelse nuusbrief. As jy dit in Engels wil hê, doen ‘n “reply” en skryf net “Engels”.

Hierdie week skryf ek oor my volgende boek, (amper hier), dan gee ek een van die bestanddele van gelukkig wees, dan ‘n resep soos altyd.

Hier is dit!

“Die Groot Boerekosboek 2”, waarin die beste resepte van die gewilde KykNet-reeks “Boerekos met Dine van Zyl” opgeneem is. Nou kan jy Tannie Stassen se tapiokapoeding maak, Johan se fantastiese skaapnek oor die kole braai en Mariana se frikkadelle in kerriesous bak – almal soek hierdie resepte. Daar is ook ander gunstelinge, soos Souskluitjies in die oond, skenkelpastei met kluitjies en soetstowe anyspatats. “Die Groot Boerekosboek 1 en 2” is elkeen ‘n volledige boek op sy eie, maar saam maak hulle ‘n erfstuk. Beide boeke is propvol kwylbek resepte, lekker stories en foto’s wat lusmaak.

Bestel daai boek

“Die groot Boerekosboek” en “Die Groot Boerekosboek 2” kos beide R290 as dit direk by Dine van Zyl bestel word. Dit sluit die BTW in, maar dan moet daar nog posgeld en verpakking bykom, wat dit ‘n totaal van R330 maak. Gaan na www.dinevanzyl.co.za om te besigtig en te bestel, maar lees eers hier onder.

En noudat die formaliteite afgehandel is: ‘n Resep vir lekker voel

Daar is ‘n paar bestanddele in die resep vir lekker voel. Een daarvan is “daar moet altyd iets wees om na uit te sien.”

Ek gaan julle vertel waarna ek uitsien, maar eers iets oor my ma, wat die “uitsien na iets” verstaan en vervolmaak het.

Die koppie van ‘n oumens onthou nie aldag so goed nie, daarom maak sy lysies en notas en aantekeninge. Elke dag kyk sy op die almanak, (as sy kan onthou waar dit is) en sien watter wonderlike vooruitsigte daar vir die dag is.

Huis Aristea maak dit lekker vir die inwoners, en hulle vier Valentynsdag (ja!), Erfenisdag, en daar was ook ‘n groot Sokker Wêreldbekerdag, toe almal soos ondersteuners moes aantrek.

My ma was in groen en goud, met daai ding op die kop wat lyk of jy uit die ruimte kom, en ‘n mini-vuvuzela, dit het ek alles op haar aandrang by die straatverkoper aangeskaf.

My ma was voorbereid, sy het in die kamer geoefen om aan te trek en sy het UITGESIEN na die geleentheid.

Die groot dag van die Wêreldbeker, het my ma deur die gange geskuifel soos die Rottevanger van Hameln. Paap-paap het sy op die mini-vuvuzela geblaas en die oumense het gevolg. Dié met en sonder kieries, dié met ‘n drie-poot, dié in rolstoele. Almal agter Ma aan op pad om pret te hê, al jillend en gillend en laggend.

My ma het in die gange af geblaas, die kombuisdeur oopgemaak en vir die spyseniers geblaas, ook Isobel in die kantoor moes hoor.

Gelukkig was die hek na die siekeboeg gesluit.

Toe’s hulle na die gemeenskapsaal, waar die organiseerders haar mooi gevra het om op te hou blaas, die ooms kla dit raas verskriklik in die gehoorapparaat. Toe moes sy ophou, maar almal het pret gehad, my ma was bietjie laf en hulle het lekker gelag.

Sy is nou 91 en kyk steeds na die almanak. Die geheue is nog korter, sy raak gou moeg. Sy kan darem op ‘n manier uitmaak watter opwinding daar staan: maak wasgoedlysie, haresny . O lekker, iets om na uit te sien!

Iets om na uit te sien

Hierdie afgelope twee weke kners ek snags my stopsels uit. Dis oor Die Groot Boerekosboek 2 wat in China gedruk word. Daai boek moet nou klaarkom. Hoe lyk dit? Is die kleurskeidings reg? Is daar foute in? Het ons orals die mielieblom en meelblom onderskei? Moes ek meer van dié ingesit het, meer van daai? O donkie, ek moet daai boek sien.

Vanoggend kry ek hierdie e-pos uit China:

“Following advance copies were sent via courier today. Please acknowledge upon safe receipt.

3 cps (Groot Boerkosboek 2 Afr. Edition Hardback)
3 cps (Great Boerekos Book 2 UK Edition Hardback)

Best regards, DoDo Chui, Shipping Dept.”
My voorskou-boeke is op die vliegtuig, die res kom met die skip. Joegaai! Verstaan jy nou? – dís hoekom ek my eie boeke uitgee. Jy ervaar al die oppe en affe, al die euforie, die spanning, die lekkerkry. Eeeeeee!

Wees eerste

Die boeke gaan by alle boekwinkels beskikbaar wees, maar jy kan nou getekende kopieë direk van my bestel. Rina maak solank die koeverte uit. Word die boeke afgelewer, moet ek net teken, verpak en daar gaat ons. Die eerste mense wat betaal het, sal eerste hulle boeke kry. Hierdie keer is ons reg vir julle en ons gaan gou spring.

Iets om na uit te sien! Klik op www.dinevanzyl.co.za

Braai ‘n snoek

Die snoek spring binne-in die boot aan die Weskus, by wyse van spreke. Dis ‘n goeie tyd om snoek te eet, want ons is nou in die maande sonder die “r”. Mei, Junie, Julie, Augustus. Die oumense het geglo dan is die snoek vet en gesond, en mens stry nie met ‘n oumens nie.

Ek hou van snoekbraai op ‘n eenvoudige en gesonde manier. Dit is klaar effe gesout as mens dit koop, maar jy kan nog ‘n bietjie sout oorstrooi.

Maal so ‘n bietjie peper oor.

Knip lourierblaar in repies met ‘n skêr en druk-druk dit in die vis.

Drup ‘n bietjie gesmelte botter of olyfolie, of ‘n mengsel van die twee oor.

Dis al, nou kan jy braai. Moenie die snoek aanhou omdraai nie, dan is jou vis te na aan die vuur.

Graham braai eers vinnig die viskant. Draai om en braai die velkant hoog bo die kole, dit hou die sous in.

Ander mense verkies andersom, dis soos om vir iemand te sê hoe hy sy kinders moet grootmaak; elkeen weet beter.

In die dae toe ek alleen was, het ek so verlang daarna om ‘n man te hê wat my snoek vir my kan braai. Ek wou langbeentjies sit met ‘n glas wyn in die hand, terwyl die patats tot soet rykheid in die kole bak.

Nou het ek alles. Boonop is hier ‘n beter stoep en ‘n regte braaiplek. Dankie liewe Jesus.

Koebaai vir eers

As daar nie snoek is nie, is ‘n steak ‘n goeie keuse. Of ‘n springbokrugstringetjie.

Wees ‘n ou liefie en stuur my nuusbrief vir ander mense, asseblief. Hulle kan self inteken op my webblad.

Mag jou kole hierdie naweek gloei…

“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”

Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This