Die skip is in die hawe! My skip, ons skip, die skip met die vraghouer tjokkenblok gelaai met my jongste boek, “Potjiekos en potpraatjies.”

Ek is baie opgewonde, want dit is ʼn boek wat ek self wil hê. Mens maak dikwels ʼn lekker pot, dan kan jy nie onthou wat alles daarin gegaan het nie. Hierdie keer het ek alles neergeskryf, nou weet ons hoe om dit volgende keer te maak.

Potjiekos en die buitelewe is maats, daarom is daar baie foto’s van reise in Afrika in die boek. Die Sani-pas pryk selfs op die voorblad. Blaai maar deur, kyk die prentjies, lees die stories, maar kook ook die potjies, die resepte is heerlik.

Ek het nie ʼn soet tand nie en maak nie dikwels nageregte nie, toe het ʼn paar mense vir my die wonderlikste potpoedings gegee. Dit is fantasties!

Ons het die naweek ʼn monumentale pot uit die boek gemaak, “Beespotjie met swart olywe.” Hoe nou? Watseding? Olywe in die pot? As jy nou die soort is wat sê, “Ek eet nie van daai goed nie,” is jy in goeie geselskap, want ek ken net soveel mense wat neusoptrekkerig is vir olywe as mense wat nie afval eet nie.

As jy nie van olywe hou nie, los dit uit en maak “Beespotjie sonder swart olywe” – of maak soos ons – sit die olywe in en skep wyd as jy nie daarvan hou nie.

Beespotjie met swart olywe
Genoeg vir 6
1,5 kg beespotjievleis
6 eetlepels kookolie
2 uie, in kwarte gesny
6 knoffelhuisies, opgekap
sout en peper (na smaak)
1 rooi brandrissie, pitjies uitgehaal en fyngekap
1 koppie rooiwyn
1½ koppie kookwater
6 wortels, grofgekap
2 groen soetrissies
6 aartappels, in dik skywe gesny
6 ryp tamaties, skilletjies afgetrek en in kwarte gesny
sout en ʼn paar draaie swartpeper
18 swart olywe, ontpit
Braai die vleis in die kookolie tot dit goed bruin is aan alle kante en skep uit.
Braai die uie en knoffel tot dit begin goudbruin word.
Sit die vleis terug in die pot en roer om dit met die uie en knoffel te meng.
Voeg die sout, peper en brandrissie by.
Gooi die rooiwyn en kookwater by, sit die deksel op en laat prut.
Na ʼn uur kan jy die deksel lig.
Pak ʼn laag wortels, soetrissie, aartappels en tamaties.
Strooi die sout oor en maal swartpeper daaroor.
Kyk of daar genoeg vloeistof in die potjie is, anders moet jy bietjie kookwater byvoeg. Onthou dat die groente gaan vloeistof trek.
Sit die deksel op en laat ongeveer 1 uur prut. Strooi die swart olywe oor, sit die deksel op en laat nog ʼn halfuur prut.
Sit voor met varsgebakte brood met ʼn lekker bros kors.

Nuwe webblad
Die afgelope week het ons gewikkel om die veranderde webblad in die kuberruim te kry. Alle eer aan Gerhard van Websurf, want dit is hy wat immer geduldig my veranderinge moes absorbeer.

Dit is nogal ʼn affêre. Ek het al soveel boeke op die rak, dat ons ʼn “winkel” moes oopmaak, met inkopietrollie en alles. Daar is ook nou ʼn fasiliteit vir kredietkaartaankope, saam met die EFT.

Skryf vir my
Dit is so lekker om briewe van jou te kry. Dikwels as ek skryf, raak jy nostalgies en wil dit graag met my deel. Ek kry die mooiste briewe, soms kort, soms sommer ʼn hele bladsy vol vertellings. Hierdie goed moet gedeel word, ek weet ander mense sal ook daarvan hou en graag kommentaar wil lewer. Maak so deur op die Facebook-ikoon te klik, dan gesels ons saam.

Bestel betyds
“Potjiekos en potpraatjies” gaan in die boekwinkel en by Leserskring beskikbaar wees, maar jy kan solank getekende eksemplare direk by my bestel om dit betyds te hê vir Vadersdag. Ons sit reg, ek met die pen in die hand om te teken, my spannetjie om die verpakking te doen, en Dapper die Duitse Herdershond om die seëls nat te lek.

Baie mense het my gevra vir afslag as hulle ʼn paar boeke aankoop, daarvoor maak ons ʼn pakket van vyf boeke met ʼn lekker vet afslag en jy spaar boonop ʼn klomp posgeld. So jy kan maar bestel vir jou twee broers en vir jou pêlle en moenie jouself vergeet nie.

Ons pos die boeke uit sodra dit deur die doeane gegaan het, gee net bietjie kans.

Ek groet met groot opgewondenheid.

Pin It on Pinterest

Share This