Jare gelede was ek totaal uitgemergel na die skryf van die roman “Slagoffers”. Dit was tyd vir vakansie, en ek het vir my familie gesê ek wil na ʼn plek toe gaan waar ek niks hoef te doen nie. Ek wil baie belangrik voel en op ʼn rooi tapyt verwelkom word met ʼn drankie in ʼn kokosneut.

Ek gaan toe na die Maledive-eilande. Die lugredery het my opgradeer, sodat ek heel voor in ʼn tjokkenblok vol vliegtuig sit. Orals om my was mense van die Maledive op pad huis toe. Hulle was opgetof, die mans met ontwerperspakke, die vroue kleurvol en met baie juwele.

Ek het my bont vakansie-hempie aangehad en my vakansiehoedjie op, so ʼn woeste pers een, sommer vir die lawwigheid.

Toe ons land, was dit tropies-warm, maar hulle laat ons lank wag in die vliegtuig. Eindelik gaan die deur oop en ek gryp my kamerasak, hier wil ek uit. Die personeel groet my vriendelik. Ek stap uit op die trap en daar lê ʼn rooi tapyt tot doer onder die palmbome, waar ʼn orkes wegtrek met dawerende musiek.

Ek sweef so grasieus soos wat die hitte en my vakansieklere toelaat, by die lang trappe af en skuil onder my pers sonhoed. Onder gekom, bedien ʼn mooi meisie my met ʼn drankie in ‘n kokosneut met ʼn geel sambreeltjie in.
Rêrig, ek lieg nie vir jou nie.

Die orkes speel dat die korale antwoord gee, daar is woeste trompetgeskal.

Dit is vrek warm, ek teug aan daardie drankie en strompel op die rooi tapyt deur ʼn erewag na die koeltebome. Daar staan ook ʼn klomp plastiekstoele en tafels vol kos, maar net toe ek wil begin peusel om bietjie beter te voel na die vlug, kom haal ʼn vriendelike, dog ferm beampte my. Die kos is net vir die president en sy gevolg – wat almal eersteklas gevlieg het.

Ek kyk terug na die vliegtuig, en daar kom die president in sy ontwerperspak statig die trappe af met sy hele gevolg wat almal saam met my gevlieg het.

Ek het toe maar die pers hoedjie laag oor my oë getrek terwyl die beampte my na die lughawegebou vergesel.

Die boek is op pad
Ek kon net nie my draaie kry met die maak van “Potjiekos en potpraatjies” nie en dit is hoekom jy nie gereeld van my gehoor het nie.

Elke keer as ek ʼn boek maak, sê ek dit is die laaste een. Ek kan die spanning nie hanteer nie en ek gaan nooit weer skryf of foto’s neem of veral ʼn boek self publiseer nie. Tans sê ek dieselfde. Dit was my laaste, maar absoluut laaste boek. Hierna gaan ek aftree en op die gras lê en na die swaeltjies in die lug kyk. Vir ʼn week.

Jy skryf en jy doen navorsing en jy neem foto’s. Jy sit jou hele hart en al jou passie in die boek. En dan na die pre-produksiespanning en nadat mens die finale proewe afgeteken het, kom die groot wag. Jy kan nou niks meer doen nie, behalwe jou lessenaar opruim, en wag vir die finale produk.

Op ʼn dag laat weet die drukkers vir jou hulle stuur jou voorlopige kopieë, die res kom per skip.
Drie dae later hoor jy die gor van ʼn voertuig op die grondpad, jy sien die stof soos hy aankom, jy gaan ontmoet hom in die straat, want jy weet daardie koerier is vir jou.

So staan ek ʼn paar weke gelede met ʼn boks in my hand. Ek het gaan sit op die voorstoep, en het lank so gesit, deels om die lekkerkry van die oomblik, en deels om die spanning.

Dit was asof ek ophou asemhaal. Die mossies het getjir en die fisante het geroep en die iewers op ʼn dak het ʼn bobbejaanmannetjie luid geskree.

Ek het my Joseph Rogers-knipmes gevat en die boks oopgesny en die boek uitgehaal –“Potjiekos en potpraatjies”.
Wat kan ek vir jou sê van die eerste kyk na ʼn nuwe boek? Die stramheid waarmee dit oopvou, die reuk van die papier, die kleure van die foto’s wat uitspring na jou oë?

Wat kan ek jou sê van die kwylbekresepte? – elke potjie getoets en foto’s daarvan geneem. Soms moes dieselfde potjie weer gemaak wat, want dan het ons die pot leeg geëet voordat ek die foto kon neem.

Dan is daar die reisfoto’s deur Suidelike Afrika. Ons het ʼn mooi kontinent, en ons het ʼn mooi land. Mens voel so trots as jy die pragtige landskappe, die berge en die see sien.

En die mense. In die pragtige kosboeke van oorsee lyk die mense altyd vreemd, maar in “Potjiekos en potpraatjies” lyk die mense soos ek en jy, want hulle is soos ek en jy.

Hulle is jou buurman of familie of jou pêlle wat êrens bymekaarkom vir ʼn pot, of dit in die buite-kombuis, langs die pad of in die veld is. Alles net om lekker te kuier en met hulle innerlike pionier in verbinding te bly. Of omdat daar beurtkrag is. Jy kan enige van die potjies die naweek maak, daar is nie vreemde goed in nie. Ek gaan vir jou ʼn lekker resep gee aan die einde.

Waar kry ek daai boek?
Daar word tans aan my webblad gewerk, dit gaan splinternuut wees. Jy kan in hierdie stadium van die ander boeke bestel, maar nog nie “Potjiekos en potpraatjies” nie.

Die versending is nou op die see en trotseer woeste waters, seerowers en monsters aan die einde van die aarde. Dit gaan betyds wees sodat jy kan bestel vir Vadersdag. En indien daar nie ʼn vader in jou lewe is nie, bestel dit vir jouself. “Aan my, van my, met bewondering.”

Soos ʼn rooi tapyt
Ek was nou weer so moeg na die voltooiing van die boek. Nadat ek die eerste twee kopieë ontvang het, het Graham en ek gaan toer. Ons het passe gery en kosse geëet en daarna gewonder hoekom mens ooit na ʼn ander land wil gaan. Alles is hier. Die mooiste uitsigte, die lekkerste produkte, die vriendelikste mense. Op elke dorp het dit gevoel of ons verwelkom word met ʼn rooi tapyt en ʼn drankie in ʼn kokosneut. Tipiese Suid-Afrikaanse gasvryheid – en hierdie keer kon ons saam eet aan die kos. Maar wat vir my veral lekker was, is dat almal vir wie ons my uitgawe van “Potjiekos en potpraatjies” gewys het, onmiddellik gesê het hulle wil ook een hê. Dit is tog ons soort kos, sonder fieterjasie en met lekker humor geskryf.

Pin It on Pinterest

Share This