Ek het onlangs koffie present gekry van Adri van Zyl van Stellenbosch. Dit is nie winkelkoffie nie, dit is spesiale koffie wat sy self gerooster en gemaal het. Adri vertel sy is ʼn koffiesnob. Geen koffie in die winkel is vir haar goed genoeg nie. Sy het met verskeie soorte koffiebone geëksperimenteer, baie koffiebone verbrand, en eindelik haar perfekte mengsel saamgestel wat sy self rooster en maal.

Nou weet ek nie of jy al self probeer koffie rooster het nie, dit is baie werk. As jy ‘n klomp rooster, kan dit ‘n paar uur uit jou dag neem, net soos moskonfyt kook. En dit kan aanbrand, net soos met moskonfyt.

Adri het haar eie koffieroostermasjien prakseer, ʼn boer-maak-ʼn-plan-kontrepsie. Haar koffie is só lekker dat almal wil hê, maar sy verkoop nie. Dit is dus ʼn baie groot geskenk as Adri vir jou ʼn pakkie koffie gee.

In ons huis maak ons nog ons koffie met ʼn perkoleerder. Drie eetlepels koffie, vier bekers kookwater, bloep-bloep-bloep en jy drink jou boeretroos. Ons het nie een van daardie deftige duur koffiemasjiene nie.

My vriende maak die lekkerste koffie. By Karen Steinbach kies ons uit haar versameling van pragtige breekgoed uit watter koppies ons dit gaan geniet terwyl die koffiemasjien borrel en sis en spoeg; dit is ʼn hele ritueel. By Diana Hunter sit ons langbeen met Cappuccino uit groot Cuppuccino koppies, ons staar na die berg en gesels oor honde. Salig.

Ek hou van ʼn goeie koffie en van ʼn spesiale koppie. Behalwe as ons kamp, dan drink mens jou koffie swart uit ʼn enemmelbeker en jy blaas-blaas om nie jou mond te brand nie.

Ons het al hoge mense hier gehad wat op die stoep kom eet. Agterna maak ek boeretroos. Die mense hou baie van die koffie, die vrou vertel hoe belangrik dit vir hulle is om goeie koffie te drink. Sy koop haar koffie by so-en-so ʼn plek in die Waterfront.

Waar koop ek my koffie?

“Spar op Kleinmond,” sê ek.

“O! En watter mengsel is dit?”

“Dit is Koffiehuis,” sê ek. “50% koffie en 50% sigorei.”

Die man draai na sy vrou, “En toe Mamma, wat sê jy nou?”

Skielik is Mevrou tjoepstil, toe is die koffie nie meer so lekker nie.

Sigorei kom van Frankryk af en dit is die Franse wat tydens die Napoleontiese oorloë die wortel gerooster en by koffie gevoeg het om dit te rek. Daardie gewoonte het uitgewyk na plekke soos New Orleans – en Suid-Afrika. Hier by ons is allerhande goeters gerooster om koffie te rek tydens die Boereoorlog (lees meer daaroor in Die Groot Boerekosboek), maar vandag is ons tevrede met sigorei by die koffie.

Sigorei is eintlik goed vir jou. Dit bevat nie kaffeïen nie en as jy hou van woorde soos probiotika, dit is hoog daarin. Ek hou van sigorei in my koffiemengsel, omdat dit ʼn ryk geroosterde smaak gee. Jy kan vandag suiwer sigorei in pakkies by die supermark koop, as jy nie kafeïne wil inneem nie.

Verlede jaar bly ons in ʼn gastehuis waar jy jou eie koffie met ʼn masjien kan maak, hulle verskaf die kapsules. Daar weet ek nie hoe die masjien werk nie en gooi die kapsule op verkeerde plek in, toe prut daar net skoon water in ons koppies. Gelukkig is Graham ʼn ingenieur en hy kon dit uitwerk.

Mens kan darem nie so agter die klip wees nie, het ek gedink en in die Somerset Mall na ʼn mannetjie gaan luister wat die hele besigheid verduidelik.

Jy vat een kapsule, prut-prut-prut en dan kry jy 200 ml koffie. Wat? Dit is minder as een koppie! Ek sê vir die mannetjie dit sal nie werk nie. Ons hou van meer. Hy sê dan moet ons twee kapsules neem.

Nee wat, dankie, ek sal maar my Koffiehuis bloep-bloep met my perkoleerder. Dit is ‘n goedkoop, outydse perkoleerder, wat mens op die gasstoof, elektriese plaat of op die buitevuur kan gebruik. Mens koop dit by die handelshuis of buitelewe winkels vir minder as R300.

Toe Adri verlede week die pakkie koffie vir my gee, het die kar die heelpad huis toe daarna geruik. Ek moes dit dadelik maak (met die plonser) – en dit is fantasties. Dit het my nostalgies laat dink aan my kinderjare op Robertson. Van die oumense het nog koffie gerooster in die agterjaart, die hele omgewing het daarna geruik.

ʼn Paar dae later wil ek die wonderkoffie met Graham deel. Die koffie is net klaar, toe klim hy op die dak. Dwar-dwar-dwar hoor ek hoe loop hy hier bokant my, terwyl Dapper al om die huis hol. Ek sien ʼn blits met ʼn langs stert verby die kombuisvenster, gevolg deur nog ʼn blits met ʼn lang stert. Die tweede een was Dapper. Die eerste een was Chancer.

Dapper is ons Duitse Herdershond en Chancer is ‘n bobbejaan.

Ons het ʼn bobbejaantrop hier in ons omgewing. Hulle kuier soms op die dorp en gaps wat hulle kan, tot groot ergerlikheid van veral die vakansiegangers, wat nie weet hoe om ʼn bobbejaan uit die huis te hou nie.

Nadat ons onlangs ʼn groot brand hier gehad het, is ons gevra om bottels suikerwater vir die voëls uit te sit. Ons doen dit, maar Chancer dog toe dit is vir hom bedoel. Hy gryp die bottel en spring op die dak. Dapper hol al om die huis. Die bobbejaan los die bottel en gly by die geut af. Graham klim op die dak om die bottel te gaan haal. Die bobbejaan hol by die kombuisvenster verby, met Dapper op ʼn veilige afstand agterna. Jy kan sien Dapper het ʼn ooreenkoms met die bobbejaan: Jy hol nie te stadig nie, en ek hol nie te vinnig nie. Die twee is taamlik lugtig vir mekaar.

Intussen staan die koffie en koud word.

Ek lees in H.C. Claassens se boek, “Die geskiedenis van boerekos” dat tee en koffie aanvanklik net die rykes beskore was. Die Hollandse vroue het baie tee gedrink, moontlik van die inheemse heuningtee of rooibostee en daar was altyd tee op ʼn tessie in die voorkamer. Die mense het ʼn klont kandy, wat suikerkristalle is, tussen die voortande vasgebyt en so die tee of koffie versoet. Blykbaar het die voortande maar gou sleg geword van hierdie gewoonte – kyk maar na skilderye van die voortydse mense, daar was nie ʼn oorvloed tande nie. Dit is seker hoekom hulle die kos so pap gekook het.

Waar ek op die dorp grootgeword het, en ook in baie van die plaashuise, was daar later nie meer koolstowe waarop die koffiekan kon warm bly nie. So het die koffiefles gewild geword. Soggens is die koffiefles gevul, en smiddae na ete is hy weer gevul. Vandag nog as mens by Henty en Yvonne Bruwer inkom, staan die koffiefles met die warm koffie daar. Jy skink vir jouself sonder om te vra, so tuis voel jy. Dit is ʼn lekker gewoonte.

My toerusting kan nie reg kan laat geskied aan die fantastiese koffie wat Adri vir my gegee het nie. Ek het myself genooi om te gaan koffie drink uit Karen Steinbach se mooi koppies. Sy voorsien die koffiemasjien en ek bring die koffie.

Intussen drink ons Koffiehuis, want so is die koffie destyds gemaak en gelaat staan. En ek is ook maar gemaak en gelaat staan. Dit is my kultuur. Vir twee groot koppies koffie kry jy boonop net een koppie se kafeïne in.

En nou as jy my sal verskoon, daar sit ʼn bobbejaan op my voorstoep. Ek moet my malvas gaan red.

Ek lees jou resepteboeke soos storieboeke

Mense vertel dikwels vir my hulle lees my boeke soos storieboeke, want daar is soveel stories en vertellings in.
Dit gaan nie net oor die resepte nie, maar oor ons kultuur en goete wat ons na aan die hart lê. Ek het lekker pakkette saamgestel en die boeke is donkies-goedkoop, jy kan sommer ʼn hele versameling koop vir die prys van een boek. Dit is die gewilde boeke, Die Groot Boerekosboek 1 & 2, Potjiekos en Potpraatjies, Afval en Afvalligheidjies, en nog meer. Kyk maar op my webblad. Die boeke gaan nie herdruk word nie, my kop staan in ʼn ander rigting.

Bestel op my webblad www.dinevanzyl.co.za

“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”
Dine van Zyl

Pin It on Pinterest

Share This