Het jy ook met ‘n beklemming om die hart onlangs in die winkels gestap? Hier tjiengelieng dit en daar tjiengelieng dat, en dit is nie die tjiengelieng van kersliedjies wat my irriteer nie, maar die tjiengelieng van die kasregister.

Nee o maggies, nou raak goeters te duur. Ons wil almal ‘n paar geskenkies koop, maar jy kry niks ordentliks as jy nie bereid is om baie geld uit die spaarvark te skud nie.

Waar gaan jy ‘n geskenk kry wat bekostigbaar is? Wat kan jy koop vir R100?

Dit is hoekom ek sê ek is jou Tannie Krismis. Want ek het besluit om pakkies boeke bymekaar te sit en dit goedkoper aan te bied. Dit is al my kookboeke. O gonna, ek hoop nie ek is besig om kêns te raak nie, want dit is baie, baie goedkoper.

1-boks-img_4224Daar is die “boksemdais”-pakkie, wat 4 boeke bevat: “Die Groot Boerekosboek 1 en 2”, “Agter die lekker aan” en “Nog ʼn stukkie”. Hiervoor betaal jy gewoonlik R1040,00, maar nou R300.

Daar is “Vat vyf”, waar jy 5 “Potjiekos en Potpraatjies” kan koop. Dit sou jou R1 450,00 kos, maar die pakkie is R450. Rêrig. Jy sal dan vir vyf mense ʼn geskenk kan gee vir ongeveer R100 elk.

Hier is van die pryse, maar loer maar self op die webblad:

Die Groot Boerekosboek R100 (also in English)

Die Groot Boerekosboek 2 R100 (also in English)

Vat vyf (5 X Potjiekos en potpraatjies) R450 (Also in English)

Tweekeer so lekker (Agter die lekker aan & Nog ʼn stukkie) R100

Afval en Afvalligheidjies R50

Boksemdais (Die groot Boerekosboek 1 & 2; Agter die lekker aan & Nog ʼn stukkie) R300 (dit is reg, ja).

Om te bestel, klik op www.dinevanzyl.co.za en dan gaan jy na bestel/order. Jy kan per kredietkaart of ʼn elektroniese oorplasing betaal.Boerekos COVERS NEW SIZED EDIT.indd

Ons oorhandig die pakkies op Dinsdae en Donderdae aan die koerier en jy kry dit tjop-tjop. Jy gaan ‘n groter winskoop maak as jy ‘n pakkie boeke pleks van een boek bestel.

“Die Groot Boerekosboek” is ʼn ikoniese boek. Dit is die een wat jou al die resepte gee wat jy lankal vergeet het, of wat jy nie heeltemal regkry nie. Jy gaan die beste frikkadelle kan maak, die beste vispastei of viskoekies, die beste melkkos, karringmelkpoeding en bobotie. En kerrieafval. Dit gaan ook vir jou op ʼn lekkerlees-manier die herkoms van ons kosgeskiedenis vertel.

“Die Groot Boerekosboek 2” is aanvullend by Die Groot Boerekosboek. Dit oorvleuel nie en die twee maak ʼn stel. Die beesstert gaan jou laat areas sing, die Overbergse skenkelpastei gaan jou beroemd maak. Daar is Tant Lizzie se mosbolletjies, Johan se fantastiese skaapnek oor die kole, en Leipoldt se tamatiekos wat ek interpreteer het, want Leipoldt was nie so duidelik met sy hoeveelhede nie. Dit is een van my gunstelingresepte, saam met boontjiebredie.

“Ek hou van die stories,” sê baie mense, toe skryf ek dit.  “Potjiekos en Potpraatjies” is ʼn pragtige, lekker boek vol resepte en wenke, maar jy kan dit soos potjiekosenpotpraatjiesʼn storieboek lee. Jy gaan ook wenke kry, soos hoe om ʼn goeie waterblommetjiepot te kook, hoe om jou pot in te kook en so. En daar is die lekkerste potpoedings in. En balletjiesbrood.

“Agter die lekker aan” het die lekkerste resepte in. Dit is ook huiskos. Hierin is die fantastiese pannekoekresep wat ek destyds by Tannie Toit gekry het. Ek het nog nooit ʼn beter resep gekry nie. Daar is ʼn Bolandse kerrie in wat op die tradisionele manier met appelkooskonfyt versoet is. Daar is die hele storie van snoek in.  Hoe om snoek te koop en te braai. Hoe om smoorsnoek te maak. Verder is daar skons en koringslaai, seekospot en seekatpot. Daar is die on-ge-loof-like gerolde lamsboud. En en en.

In “Nog ʼn stukkie” is kreefsop, swartmossels in wyn en room, straatkos, suurlemoenyskastert en Peppermint Crisptert. Daar is slawekos en hoendersult, en ʼn Sondaghoender en wildspastei waarsonder jy nie verder deur die lewe kan gaan nie.

My mond water nou so van oor al die resepte skryf, dat ek dadelik ‘n paar skaapskenkels in die oond gaan druk.

Die boeke gaan nie herdruk word as dit uitverkoop is nie.

Laat dit solank goed gaan met jou. Ons is woes besig om boeke te verpak. Dit is lekker om Tannie Krismis te wees!

Liefdetjies en al daai mooi sentimente.

 

Pin It on Pinterest

Share This