Die Karoo en groot en wyd soos Onse Heer se genade. Hoe weet mens na wie toe om te gaan vir ‘n opname vir Boerekos op Kyknet?

Ek reël toe deur my Karoo-vriendin, Annatjie Reynolds en sy reël vir my ‘n paar mense. Annatjie kén van vleis. Sy het by die Vleisraad gewerk en is getroud met Kobus, wat naby Richmond boer.

Annatjie leef haar droom. Sy gee demonstrasies van vleissnitte en wat mens alles met vleis kan aanvang en ontmoet so baie mense. Sy en 2 vriendinne het Karoo Wildsvleis (Karoo Venison) geskryf. Dit word deur Jonathan Ball uitgegee, maar getekende eksemplare kan by haar bestel word teen R230 plus posgeld. Kontak haar ook vir demonstrasies by annatjie.r@vodamail.co.za

So tussen al die gesels deur het ek en Annatjie ‘n springbokboud gestop en in netvet toegedraai vir die kamera.

Die span is ook na haar vriendin Marinet Viljoen en dié se skoondogter, Janine op Slaaifontein, waar ons lewerkoekies gebak het, ‘n skaaphart- en niertjiegereg gemaak het vir brekfis (en dit opgeëet het voor ons dit kon opskep).

Ons bak ook lewerkoekies om van huis toe te skryf. Het julle geweet mens kan netvet bymaal? Ek ook nie. Sondig lekker.

Marinet het ook ‘n springbokrugstring- en skaapniertjiepastei gemaak met ‘n slapdegie. Absoluut salig. Dis wat jy alles in hierdie week se program kan sien.

Toe gaan ons Victoria-Wes toe, na Mannetjies Roux. Behalwe vir Daai Drie, is Mannetjies ook bekend daarvoor dat hy met Charlotte getroud is. Charlotte kan vir jou kook.

Sy maak ‘n skaapribbetjie in die oond soos ‘n skaapribbetjie nog nooit geproe het nie. Sy maak ook ‘n poeding wat moet Springbokkleure kry oor dit so lekker is: Jan Ellispoeding.

Geniet “Boerekos met Dine van Zyl” Sondagaand op Kyknet om 19:30. As mens klaar gekuier het, is jy sommer half hartseer. Al die resepte is op www.boerekosresepte.co.za

Maar daar is altyd rede vir goed voel. My skip het ingekom! Haar naam is “Mol Devotion” en sy het ‘n houer vol met Die Groot Boerekosboek en The Great Boerekos Book.

Ek het vandag met die skeepsagent gepraat. Hulle kon nie gister aflaai nie, oor die wind, maar vandag gebeur dinge. Nou moet dit nog deur die doeane gaan, na die verspreiders en na my gestuur word – en julle boeke word uitgepos.

Ek en Graham gaan môre bietjie in die Boland rondry. Sommer wyn en kaas en olywe koop en ‘n slaggie ‘n ander horison sien. Die Langeberge, die wingerde met hulle stamme nat van die reën, die groen wintergras.

Maar ons is betyds vir die rugby en ons gaan Charlotte se lamsribbetjie in die oond maak. Al die resepte van die TV-programme is op www.boerekosresepte.co.za maar hier is solank Charlotte se ribbetjie:

Charlotte van Mannetjies se lamsribbetjie:

1 Karoo lamsribbetjie
½ k druiweasyn
witpeper
2 E grofgemaalde koljander
2 E growwesout
6 aartappels
2 uie
meelblom vir oorstrooi
2 E skaapvet

Sprinkel die druiweasyn oor die lamsribbetjie.
Strooi die witpeper, koljander en sout daaroor en vryf dit in.
Draai die vleis om en herhaal die proses.
Voeg die aartappels en uie by en strooi meel oor.
Skep dan die skaapvet op die rib en bak teen 180º C in die oond vir 1½ uur.

Stuur asseblief my nuusbrief vir ander mense vir so ‘n bietjie boeretroos. Hulle kan dan self inteken deur op my webwerf te gaan.

Laat die potte prut en die Bokkie dié dinge doen wat Bokke moet doen!

Dine van Zyl
“Ek kook – soms selfs in die kombuis!”

Pin It on Pinterest

Share This