Dine van Zyl se waterblommetjiepot
Genoeg vir 4 – 6
1 kg vars waterblommetjies
1 kg lamsvleis
500 g skaapstertjies of beesskenkelvleis met murg
4 mediumgrootte uie, grofgekap
4 knoffelhuisies, grofgekap
6 kruinaeltjies
2 teelepels koljanderkorrels
1 teelepel swartpeperkorrels
1 eetlepel sout of meer
700 g aartappels, in kwarte gesny
nog 1 eetlepel sout
sap van ʼn halwe suurlemoen
Gooi jou waterblommetjies in ʼn skottel soutwater om van die goggas ontslae te raak. Spoel dit baie goed af en breek die blomme kleiner.
Kook water en gooi die blommetjies daarin. Kook so 2 minute nadat die water begin borrel het en dreineer. Hou die blomme eenkant. Nou is jy reg om jou potjie te maak.
Braai jou vleis bruin, skep uit en hou eenkant.
Gooi die uie en knoffel in die potjie en braai tot die uie deurskynend raak.
Voeg die kruinaeltjies, koljander en swartpeperkorrels by en braai so 2 minute
Sit die vleis terug in die pot en meng dit met die uie.
Strooi die sout oor.
Gooi ʼn kwart van die waterblomme en ʼn kwart van die aartappels in die pot, sit die deksel op en laat dit stowe.
Moenie enige water byvoeg nie, want die waterblommetjies sal genoeg vloeistof voorsien en die aartappelblokkies sal blus en ʼn kort (dik) sous vorm.
Na ongeveer ʼn uur kan jy die res van die waterblommetjies en die aartappels bo-op sit.
Strooi weer ʼn bietjie sout oor.
Sit die deksel op en prut nog ʼn uur.
As jy die deksel afhaal, moet jou vleis, waterblomme en aartappels sag wees. Druk nou ʼn bietjie suurlemoensap oor, of gebruik suringstingels as jy nog meer tradisioneel wil wees.
Moenie die kos in die ysterpot laat staan as die suurlemoensap bygevoeg is nie; dit sal die kos blouswart maak.
Bedien jou waterblommetjiepot op witrys met ekstra skyfies suurlemoen daarby.

Pin It on Pinterest

Share This